POLITICS

Wim de Villiers evaded questions on Afrikaans at SU - Leon Schreiber

DA MP says Rector's vision for the university is one of total Anglicisation (in Afrikaans)

Wim de Villiers ontwyk vrae deur MRK oor sy plan vir 'totale verengelsing' van die US

10 May 2021

Die Demokratiese Alliansie (DA) het vandag die verhoor van Universiteit Stellenbosch (US) rektor Prof. Wim de Villiers voor die Menseregtekommissie (MRK) bygewoon. Alhoewel De Villiers tien prokureurs en amptenare saamgebring het na die verhoor, het hy steeds volstek geweier om antwoorde te verskaf oor die sistemiese diskriminasie teen Afrikaanse studente wat deur die huidige taabeleid veroorsaak word.

Die MRK se ondersoek volg nadat die DA vroeër klagtes aanhangig gemaak het oor talle aantygings dat studente in koshuise, op kampus en selfs of Whatsapp verbied word om in Afrikaans te kommunikeer, en met boetes gedreig word indien hulle Afrikaans sou praat.

De Villiers het tydens sy getuienis bevestig dat hy die 2016 taalbeleid - waaronder die vergrype plaasgevind het en waaronder Afrikaans as 'n gelyke onderrigtaal aan die US afgeskaf is - as “besonders suksesvol” beskou. Hy het voorts ook geweier om aan die MRK antwoorde te verskaf op aantygings dat hy reeds in 2015 aan 'n US-raadslid sou gesê het dat die universiteit maar net ten volle moet verengels omdat dit die “maklikste opsie” sou wees.

Sy stilte op hierdie vraag spreek boekdele, en dien as indirekte bevestiging dat De Villiers op 'n ideologiese krygstog is om Afrikaanse onderrig geheel en al af te skaf.

Die US-bestuur se voortgesette minagting van Afrikaanse studente se grondwetlike reg tot moedertaalonderrig dreig om die universiteit, sowel as die breër Afrikaanssprekende samelewing in veral die Noord- en Wes-Kaap, in 'n eksistensiële krisis te dompel. De Villiers het sonder om te blik of te bloos erken dat die meerderheid studente aan die universiteit Afrikaanssprekend is - en tog blyk die universiteit vasbeslote te wees om uitvoering te gee aan De Villiers se visie van totale verengelsing.

Die DA gaan die MRK-ondersoek deurlopend moniteer, en ons sien ook uit om self voor die Kommissie te getuig. Ons moedig alle Afrikaanse studente wat bang is vir viktimisering om hul plaaslike DA verteenwoordiger te kontak, want ons sal seker maak dat hulle die geleentheid kry om anoniem voor die MRK te getuig.

Statement issued by Dr Leon Schreiber LP - DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch, 12 May 2021